- font size decrease font size increase font size
Vanghok vir enkellopende ou, bruin Hiëna mannetjie
Yolandé Viljoen wie 50km buite Bloemfontein, in die Jagersfontein rigting bly, doen navraag oor haar buurman se 10 groot ooie wat die afgelope week feitlik heeltemal opgevreet is. Sy beskryf dat slegs die kop en ribbes agterweë gelaat is. Daar was sleepmerke naby die karkasse en die dooie diere is op minder opsigtelike plekke tussen lang gras en naby bosse gevind. Daar is ‘n kop in die kamp waar die ooie loop wat ruig en dig begroei is en groterige, ronde spore is daar gevind, maar weggewas na die reën voor dit deeglik bekyk kon word. Die areas waar die karkasse gevind is, het goeie plantbedekking in die vorm van gras en kon geen duidelike spore waargeneem word nie. Die buurman het hier grootgeword, maar het nog nooit iets soortgelyks gesien nie. Normaalweg het hulle slegs las van jakkalse en rooikatte.
Dr. Gerhard Verdoorn gee raad:
Situasie wat beskryf word is sonder twyfel dié van ‘n enkellopende ou bruin hiëna-mannetjie wat die skape vang. Ek het baie ervaring met hulle en normaalweg maak hulle geen skade aan kleinvee nie. Enkele ou mannetjies raak egter snoek en as hulle begin skaap vang maak hulle groot skade.
Gelukkig kan die bruin hiëna maklik met ‘n inloopvanghok gevang word. Skakel vir Lourens Goosen by Vrystaat Omgewingsake op 082 718 9125 en vra of een van hul amptenare ‘n hok kan leen. Hy sal ook kan aandui hoe die hok gestel moet word. Oorblyfsels van ‘n skaap of selfs hoenders kan as goeie aas gebruik word om bruinwolf te vang. Sodra hy gevang is, kan die dier geskuif word na ‘n ander plek.