Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Groenboontjiebotter vir rotteplaag?

"Laat weet asb hoe ons 'n rotteplaag in ons lapa kan beheer. Die lapa is so 12 jaar gelede gebou en so 2 jaar daarna het 'n uil haar intrek daar geneem en vir jare die rotte onder beheer gehou. Die laaste jaar het die rotte egter begin oorneem en soveel so dat dit nou erg na urine begin ruik daar binne. Ons is huiwerig om gif uit te gooi vir die rotte omdat daar buiten die uil en haar kuikens ook honde is wat die rotte sal vreet of sal belangstel om aan hulle te krap. Het julle enige raad want ons het valletjies probeer en ook van die gom waaraan die rotte kan vassit maar die rotte is te slim. Die rotte bly bo in die lapa se dak wat ook moeilik bereikbaar is."

Antwoord deur Dr. Gerhard Verdoorn:

Rotte is baie slim dierasies wat die mensdom al vir eeue fnuik met hulle vemoë om vinnig uit te vind wat skadelik vir hulle is en dan daarvan weg te bly. Gewone rotvalle (snap traps) werk steeds in sommige gevalle maar die kuns lê in die lokaas wat gebruik word: grondboontjiebotter is die beste en min rotte gaan daar verbyloop. As rotvalle wel gebruik word is dit noodsaaklik dat die dooie diere die volgende oggend verwyder word, die rotvalle met kookwater gewas moet word en dan weer aangewend word.

Gebruik van knaagdierdoders is ook ‘n effektiewe metode maar soos die skrywer aandui is daar ‘n gevaar van sekondêre vergiftiging vir uile. Die knaagdierdoder wat die minste impak op uile sal hê, is Racumin rotlokaas of ook Ridak wat kortkop agter Racumin hardloop. Gebruik slegs die wasblokkies as daar honde is want as honde dit sou vreet, word die wasblokkies nie vinnig genoeg verteer om die aktiewe bestanddele vry te stel nie. Pastaformulasie is hoogs effektief maar dodelik vir honde. Racumin se aktiewe bestanddeel naamlik kumatetraliel is tegnies nie giftig vir uile terwyl die aktief van Ridak difenakum ook min giftig vir uile is. Verdermeer werk beide op ‘n meervoudige voedingsbeginsel: die knaagdiere moet dit ten minste drie dae na mekaar vreet voor die produk effek uitoefen. Baie belangrik is dat die lokaas in ‘n lokaashouer aangewend word en nie bloot uitgegooi word nie.  Dit moet vir sestien dae lank uitgeplaas word en wanneer die lokaas in die houer min raak moet dit aangevul word. Die eerste dooie rotte word voer dae na die eerste aanwending waargeneem. Dooie rotte moet opgetel word en weggegooi of begrawe word.

 

Racumin se besonderhede is: Racumin Rotlokaas (registrasiehouer Bayer CropScience, registrasienommer L4284 Wet No. 36 van 1947, bevat kumatetraliel, skadelik).

Ridak se besonderhede is: Ridak Bait Block (registrasiehouer BASF SA, registrasienommer L8641 Wet No. 36 van 1947, bevat difenakum, skadelilk).