Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Raadop met vlermuise

Theo Champion vra raad oor die beheer van vlermuise:
Ek het vlermuise wat saans oornag in my motorhuis - hul kom in by die opening van die roldeure en hang enige plek binne, soms direk by die muur waarin hul kom. Ek het eers gedink dat dit dakrotte kon wees maar pilletjies vir muise bly lê, tot ek een aand teen skemer, vlermuisies gewaar by my huis - in dorp (PE). daar is baie "droppings sommer teen die muur en oral in lyn waar hul moontlik hang. Ek wil graag op goeie manier van hul ontslae raak.

 

Antwoord: 
Eerstens interssante inligting oor die vlermuise:  daar is twee groepe naamlik die Megachiroptera wat die vrugtevlermuise is en dan de Microchiroptera wat die insectivore is (sommige is selfs hengelaars). Die vrugtevlermuise gebruik nie ultrasoniese klanke en radar nie terwyl die insektivore almal radar en ultrasoniese klank gebruik om hulle rigting te bepaal asook om prooi op te spoor en te vang.

Die vlermuise wat in groot getalle soms in geboue intrek, is meestal die insektivore. Hulle is ook verantwoordelik vir grootskaalse beheer van insekte: sommige fokus op muggies en muskiete terwyl andere weer kewers of motte vreet. Daar is selfs van hulle wat visvang. Daar bestaan geen bloedsuiende vlermuise in Suid-Afrika nie en hulle kom voor in die Amerikas. Vlermuise verkies donker skuilings soos grotte en daarom sal hulle in ou skure, motorhuise en dakke intrek. Vlermuise is maklik om te hanteer en die vrese dat hulle hondsdolheid oordra is wel gegrond maar daar is die afgelope eeu slegs vier mense in Suid-Afrika met hondsdolheid as gevolg van vlermuisbyte gediagnoseer. Daar is duisende gevaarlike honde wat mense elke jaar byt en dus moet ons nie ons vrese op vlermuise fokus nie.

Dit is onwettig om vlermuise enigsins te vergiftig en dit dra in elk geval net by tot die ontploffing van skadelike insekte as mens die diere uitwis. Die beste manier om die probleem op te los is om vir hulle buite die gebou akkommodasie op te rig en dan die gebou se ingangplekke te seel. Dit is ook raadsaam om afweertegnieke te gebruik om hulle uit die gebou te kry. Hier is die spesifieke aanbevelings:

  1. Gaan na batcon.org en sien daar planne om ‘n vlermuiskas te bou. Bou dan so een en rig dit op teen die oostelike of suidelike kant van die huis of plaasgebou. Die vlermuise trek geredelik daarin sonder enige lokmiddel.
  2. Hang stukkies aluminiumfoelie teen die dak op (in die plafon of teen die plafon in skure, motorhuise en ander geboue).
  3. Sit ‘n goedkoop elektriese waaier in die dak of in die gebou sodat dit naby die plek is waar die vlermuise hang.
  4. Installeer ‘n lae-energie gloeilampie naby die plek waar die vlermuise hang.
    1. Hierdie afweertegnieke oortuig die vlermuise om die plek te verlaat en ander akkommodasie te soek.
  5. Wag dan in die vroeë aand totdat die vlermuise die plek verlaat het en seel alle ingangsplekke met poli-uretaanskuim sodat hulle nie weer kan terugkeer nie.