Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Strandwolwe (bruin hienas)

Ons boer in die Noordkaap in die Bo-Karoo.  Ek hoop u kan my dalk behulpsaam wees, ek het iewers n paar maande gelede 'n artikel gelees waarin u vermeld van hiena's en die strandjut wat gereeld op plase gesien word. 

Ons werker op n veepos het my 'n paar weke gelede vertel dat daar 'n groot vlakvark is wat in die aande partykeer naby sy huis verbyloop, en dan blaf sy hond geweldig baie soos hy agter die vark aan beweeg, en die "vark" maak 'n groot geluid soos 'n koei wat sy kalf beskerm.  Vlakvarke loop egter nie in die nag nie so ek het gedink dit is seker iets anders en mens weet ook nooit hoe akkuraat die beskrywing nou eintlik is nie, omdat hy nie vir my 'n spoor kan wys nie, alhoewel die grond redelik klipperig is in daardie gedeelte.

Verlede week het ek egter iets oor die pad sien loop ongeveer 500m van my af en my eerste gedagte was dat dit 'n hyena is. ek het gaan kyk maar niks gekry nie. ek sien gereeld weerwolwe in ons veld en ek het nog nooit gedink dit is n hiena nie.  Sou dit dalk 'n hyena wees, wil ek graag by u weet na watter tekens ek kan kyk om te prober identifiseer of dit wel die geval is?

Is daar dalk iewers op die internet 'n goeie foto en beskrywing van die spoor van 'n hiena? Ek het dieselfde dag 'n dooie hasie wat op die pad doodgery is in ons veld gesit en die volgende dag was dit weg, so my idee is om 'n springbok kop vas te maak aan die draad en te sien of hy dit dalk eet en so 'n spoor te kry, natuurlik indien dit wel 'n hiena is. Die dier wat ek gesien het was nie besonder groot nie, maar wel in my opinie groter as 'n weerwolf (as ek rofweg moet skat is die dier wat ek gesien het omtrent 2.5- na 3 keer die hoogte van 'n rooijakkals).

As dit wel 'n hyena is, wat staan mens te doen? Ons het van verlede jaar se lammers wat saam met ‘n donkie loop naby die plek waar ek die dier gesien het, en ons het nog geen verliese gehad nie. Die lammerooie het ons die laaste paar maande met die nuwe lammers elke aand gekraal, maar die lammers is nou gespeen en die ooie loop nou alleen in die veld. Tot op die stadium het ons ook nog niks verloor nie.

Groete, Karooboer

 

Antwoord:

Jy skryf daar uit my hartland! Dankie vir jou navraag en goeie beskrywing van die situasie.

Daar is ‘n redelike goeie kans dat daar wel strandwolwe (ook bekend as bruin hienas, strandjutte, bruinwolwe) daar by jou in die Bo-Karoo sal kop uitsteek. Ek het die diere al baie wyd raakgeloop, soms net as gevolg van hulle gebiedsafbakeningsmerke en soms net as gevolg van spore. Hulle is maar hoofsaaklik nagdiere, maar in die Kalahari en Wes-Kus het ek hulle helder oordag raakgeloop.

Hulle is gewoonlik as volwasse diere so rondom die 40 na 45 kg en loop met die kop omlaag en agterlyf wat skuins na agter afloop. Die postuur is nogal soos die van die weerwolf of aardwolf maar aansienlik groter en baie donkerder met lang hare. Gewoonlik is hulle baie stil tensy mens hulle konfronteer wanneer hulle dan ‘n baie diep grom en ook skril geluide uiter. By die slaapgate is daar egter baie meer geselsery veral onder die jong diere.

Dis bitter moeilik om vir bruinwolwe te gaan soek as mens nog nie met hulle gewerk het nie maar kom ek probeer aanduidings gee: hulle hou daarvan om in tweespoorpaadjies te loop en hulle spore lyk so die van ongeveer ‘n boerboel se grootte, behalwe dat die agterpoot se spoor kleiner as die voorpoot se spoor is. Wat my altyd dadelik van die bruinwolf se teenwoordigheid verwittig is nie die spore nie, maar eerder die gebiedsafbakeningsmerke wat hulle met die twee anale kliere op plante maak: daar is een wat soos melksjokolade lyk en ‘n aangename kruiereuk afgee. Hierdie wit pastamerkie is sowat 15 mm lank en 3 mm in deursnit en hou sy geur nogal lank. Die ander merkie is heelwat kleiner, donkerbruin soos koolteer en het ‘n baie skerp, prikkelende geur wat nie meer as omtrent vier tot vyf dae hou nie. Ek het al van die goed versamel en vir honde daaraan laat ruik; hulle reaksie was nogal vreesbevange gewees! Die merke word meestal op omtrent 45 cm van die grond af op grashalms gemaak maar dit sal in die Karoo sekerlik ook op kriebosse en driedorings gemaak kan word.

Ongeag wat baie mense glo soos wat nou weer in Landbouweekblad deur ‘n wildeienaar gesê is, is die bruinwolf se impak op vee en wild uiters min. As daar wel gevang word is dit meestal ou mannetjies of soms wyfies met twee of drie kleintjies wat sal vang. Hulle loop baie wyd en sal by jou in die Bo-Karoo letterlik duisende hektare veld deurkruis op soek na kos. Hulle vreet afval vanaf karkasse (jou vlakhaas is soos ‘n klein versnapering), veldvrugte, tsammas en karkoere, eiers, klein grondlewende soogdiertjies en ou bene. Ek persoonlik glo nie dat die bruinwolf se impak op vee en wild is enigsins ekonomies beduidend is nie. Ek dink selfs dat die teenwoordigheid van ‘n bruinwolf die jakkalse se eetlus gaan demp want hy gaan ‘n jakkalsgat se kleintjies soos ‘n stofsuier opvreet. Hulle sal ook help om nageboortes en aborsielammers op te vreet wat weer help met kuddgesondheid.

Die bruin hiena is baie skugter maar sal sonder skroom verby huise en selfs in plaaswerwe rondbeweeg as daar ‘n kans vir ‘n kossie is.

Weereens dankie vir jou navraag en jou positiewe houding teenoor wat ek hoop ‘n bruinwolf is! Ek sluit sommer vir jou ‘n foto van ‘n stokou dier in wat ek jare gelede in die Kalahari afgeneem het.

--