Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Vriendelike plaashonde vreet lammers snags

Vraag vanuit die kleinveebedryf:

Produsente hou hulle skaaplammers snags in ‘n kraal wat met sifdraad ingespan is. Daar is al ses lammers doodgebyt en hulle wil weet of jakkalse oor of onderdeur die heining kan kom om die lammers dood te byt. Hulle het twee groot honde en twee klein  honde (Jack Russels) wat bedags heel gemaklik saam met die lammers en plaaswerkers rondbeweeg en hulle twyfel of die honde enigsins die skuldiges is. By verdere navrae het ek uitgevind dat die lammers heeltemal verskeur was.

 

Gerhard se antwoord:

Jakkalse kan wel onderdeur heinings kruip maar sal as ‘n reël nie oor heinings kan klouter nie. Rooikatte kan wel as hulle vernuftig raak, oor heinings klouter. Die aanduiding wat egter die deurslag met die geval gegee het, is die feit dat lammers heeltemal verskeur was. Dit is ‘n algemene bekende feit dat honde op 'n morsige wyse vee doodmaak en ook op 'n morsige wyse aan hulle vreet. Dit is dus die “vriendelike plaashonde” wat snags as die eienaar rustig slaap hulle skelm misdrywe pleeg en ek sou verwag dat al die honde aan die aksie deelneem. Dit is ook bekend dat honde wat bedags heeltemal gemaklik met plaasdiere omgaan, veral in die teenwoordigheid van mense, snags hulle jagtersinstinkte op kleinvee oefen. As dit ‘n jakkals wat wat die lammers gedood het sou daar slegs op ‘n netjiese en skoon wyse aan die ribbekas gevreet gewees het. Maak dus seker dat selfs vir jou eie honde die toegang tot krale onmoontlik is deur die sifdraad met stewige klippe van ten minste 10kg elk vasgepak word. Dit sal alles wat tande en naels het, uit die kraal hou.