Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Boer in Gariepdam omgewing - is dit 'n Otter?

Telefoniese navraag:

‘n Wolprodusent naby die Gariepdam het elke week ‘n verlies van ‘n klein lammetjie. Die lam word doodgebyt en dan word die weefsel onder die blaaie, bors, nekvel en ribbekas uitgevreet. Verdere vretery lei dan tot by die ribbekas wat oopgevreet word en dan word ingewande ook gevreet. Die produsent was van mening dat dit otters was omdat hy wel otters in die spruite waargeneem het.

Dr. Gerhard Verdoorn se opsomming is dat dit nie otters was nie, maar ‘n silwervos wat die lammers vang en so vreet. Silwervosse vang wel soms baie klein lammers (in die geval van merino’s miskien tot een maand ouderdom). Hulle vreet dan onder die vel aan die sagte weefsel van die blaai, bors en nek. Otters vang bitter selde lammers. As dit wel gebeur word die lammers aan die neus gebyt en doodgesmoor. Hulle vreet ook nie juis die karkasse nie. As silwervosse aanhoudend lammers vang kan hulle maklik met inloopvanghokke gevang word. Let ook op dat silwervosse slegs hierdie klein lammers vang en dus is hulle ekonomiese impak baie laag in vergelyking met die van rooijakkalse.

 

'n Boer uit die Cathcart omgewing het navraag gedoen oor die tipe predatoor wat sy skape aangeval het.  Dr. Gerhard Verdoorn het geantwoord dat dit gewoonlik 'n Groototter is wat sulke kwaad doen.  Hulle byt selde dood, maar byt vas aan die voorkant van die skaap se gesig en skeer die weefsel af.  As die Otter aanhou om skade te veroorsaak, kan 'n inloopvanghok (soos vir rooikatte), met vis of lammerafval as lokaas, gebruik word om hom te vang.