Ask our Expert

Vra vir Gerhard

Dr. Gerhard Verdoorn

Dr. Gerhard Verdoorn is hoof van die Griffon Gifinligtingsentrum en is ‘n kampvegter vir volhoubare voedsel- en veselproduksie in die konteks van ekologiese aanvaarbare praktyke. Hy sal altyd na die produsent se dilemma luister en die mees ekologies aanvaarbare bestuurstegniek aanbeveel om ‘n probleem te bowe te kom.  Skakel hom gerus by 082 446 8946.

 

Vra vir Gerhard

Johan Lambrecht vra:

“Kan u asseblief help die foto is geneem van n lewendige persieooi in Prieska distrik op my plaas.Daar is nou al 3 Persies gekry wat se sterte lewendig uitgevreet is By nadere ondersoek op karkas sien jy duidelik naelmerke in die boude soos die skaap houvas is terwyl gevreet is.  Wat kan dit wees wat so mors?  Ons weet nie wat dit kan wees ! Rooikatte en Jakkalse byt tog diere dood Die veld is baie hard so spore kry ons nie Help as julle kan”.

Gerhard Verdoorn antwoord:

“More Johan

Alle simpatie met die verlies wat die roofdier jou aanrig.

As daar naelmerke aan die dier se lyf is en die dier lewendig van agter af gevreet is, is dit beslis ‘n jong rooikat wat nog nie sterk genoeg is om so ‘n volwasse ooi te kan doodbyt nie.

Beste sal wees om ‘n vanghok te stel en die dierasie te vang. Jy sal die hok as volg moet verander:

Bou ‘n ekstra hok aan die agterkant waarin jy ‘n lewendige lam kan sit. Die draad moet stewig wees (verkieslik gesweiste maasdraad) en 12 mm by 12 mm maasgrootte. Dit is om te verhoed dat die kat die lam deur die draad knou. Kry dan ‘n maandoud boerboklam (leen maar by ‘n buurman as jy self nie een het nie). Sit dan die hok uit op die plek waar die kat vang net so by donker – die boerboklam sit ‘n groot keel op en dit lok die kat na die hok toe. Jy kan ook ‘n bolletjie maak van aluminiumfoelie en in die hok ophang. Dit lok ook rooikatte en veral ‘n jong dier wat spelerig is sal deur die foeliebol aangelok word.  Ek wil ook versoek dat jy ook jou bure inlig oor die moontlikheid van so ‘ jong rooikat want hy gaan wyd loop en elke nag skade aanrig.

Sterkte met jou boerdery.”